Lyster

Somermiddag
loom van stilte.
Tussen wortels van die stinkhout
en dooie blare van die struike
skrop die dofbruin lyster in die grond,
staan stil,
die koppie skuins
asof hy luister
waar die erdwurm wegkruip in die turf.
Hy fladder op.
Uit takkies van die tamarisk
breek hy die stilte.
Sy kroppie swel.
Hy kweel kristal
en fluit fluweel
en speel viool
en rol die rondo's uit die klein
klaviertjie in sy keel.
Dan bly hy stil.
Daar lê laventel op die lug.

+++

> Voordrag deur digter in MP3-formaat

Rooivink

Die rooivink gooi
'n rooi vonk in die riet,
'n vuurkool in die geil kanet.
Hy vlieg op uit die plaat palmiet.
Sy vlerkies sprinkel splinters lig.
Hy vladder vlamrooi in die lug
en val 'n gloeistreep na sy nes
van droë gras.
Hy speel met vuur dié voël.
Straks steek hy nog die wêreld aan die brand.

+++

> Voordrag deur digter in MP3-formaat

Plaatopname

Skuins teen die ashoop
tussen kronkels en spirale
ou doringdraad en pale
en plate swartgeroeste sink,
'n leë, ingeduikte trommel
en nog 'n hele spul
wanmusikale rommel
van 'n goedkoop poporkes,
blom vol en heuningsoet
die bronsgeel stuifmeelstem
van Frida Boccara.






> Voordrag deur digter in MP3-formaat

Onsterflikheid

leef goed, sterf goed
CHRIS BARNARD
Die lewe
'n proses van seldeling.
Die lewensduur
is in die selstruktuur
geneties vasgeprogrammeer.
Die terminus ad quem
word in die nukleus van die embrio
by die konsepsie ingekalibreer.
Jy dra van jou geboorteuur
jou vonnis in jou binnesak.

Een
uitsondering op die reël
is onlangs deur die wetenskap
bo alle twyfel vasgestel:
die kankersel
kan ad infinitum
voortreplikeer.

Die karsinoom alleen besit onsterflikheid.

Huis van die paaie

Is daar ‘n plek waar alle,
álle
paaie kruis
van God en mens,
hemel en aarde,
goed en kwaad,
vreugde en leed,
mooi en lelik,
lewe en dood,
tyd en ewigheid?

Ek soek die plek.

Wyse Grieke op die Akropolis:
Athena, ana méson toon triboon
- Athene, in die middel van die paaie.

Magtige Romeine met hul wêreldryk:
umbilicus - die nawel,
eindpunt van alle paaie wat na Rome lei.

Vroom Jode in ou Jerusalem:
bet netiboot
- huis van die paaie,
of: waar al die paaie saamwoon in een huis.

Buitekant die stadspoort staan ‘n kruis.

Kenosis

Hy .... het Homself ontledig
FILIPPENSE 2:6,7

Dat Hy wat God uit God is,
lewe uit lewe,
lig uit lig,
van ewigheid gegenereer
- dat Hy opnuut verwek moes word,
as Kind gebore uit ‘n vrou,
dit was die swaar begin
van sy ontlediging.

Die Seun van God,
die Allerhoogste Heer,
wat met die lig beklee is soos die son,
is in ‘n voerkrip neergelê,
in doeke toegedraai.

As Kind moes Hy,
voor wie die engele in aanbidding buig,
gehoorsaam wees aan Josef en Maria
en doen wat hul beveel.

Sy hele aardse gang
aflegging van sy glans en heerlikheid
terwyl Hy deur dit alles heen
waaragtig ewig God sou bly.

Paassaal - die Koning van die konings word ‘n slaaf
wat neerkniel om die voete van
sy leerlinge te was.

Getsémané -
en Hy wat op die vleuels van die winde wandel,
‘n wurm wat rondkruip in die stof,
sy sweet soos druppels bloed.

Gabbata - alsiende Regter by die Oordeelsdag
as aangeklaagde voor Pilatus,
veroordeel tot die dood,
geblinddoek en geslaan,
in die gesig gespuug,
‘n kroon van dorings op sy hoof,
‘n riet as septer in sy hand.

Golgota -
die Heilige, die Sondelose,
uitvaagsel aan die kruis gespyker en gehang.
Die Seun van God wat in die boesem van die Vader was,
in duisternis van God verlate.
Die Ewige, die Onsterflike,
self bron van al wat asem het en leef,
Hy blaas sy asem uit
en sterf.

Sy graf -
daar word die vloek van sy ontlediging
- want stof is jy,
tot stof sal jy terugkeer -
aan die Geseënde
finaal voltrek.

Kruispunt

Twee lyne het dié dag gekruis.
Dis beter so, het hy gemotiveer,
dat een man vir die volk moet sterf
en nie die hele nasie omkom
as die hand van Rome straks
ons vryheidsvure in ons eie bloed kom blus.
Met nugter staatsmanswysheid het hy taks
sy standpunt en beleid geformuleer.

Net oor hy dié jaar hoëpriester was,
het God op hierdie woord beslag gelê
- dat een man vir die volk moet sterf -
dit met die bittersoet meerduidigheid deurstroom
van helse haat en hemelse bedoeling,
dit tot die kwintessens gemaak van sy verlossingsplan.

Waarom het God, wat nie kan lieg nie,
die witste waarheid ingeklee
in die gedaante van die swartste leuen?

Twee lyne het mekaar dié dag gekruis.
Die een was vertikaal,
die ander infernaal.
Die kruispunt was
die hart van Kajafas.

Parkeermeters

Die teks het my gegryp‚
my aan die brand gesteek.
Ek het die hele week
gewerk‚
gebid‚
gesmeek‚
geëksegetiseer‚
gesweet‚
gewik‚
geweeg‚
geworstel om die diepe sin
glashelder en konkreet
te vergestalt.
Dit vloei‚
dit stroom‚
dit breek uit my:
verlore seun wat tuis kom by die vaderhuis –
o wonder van die kruis!
Wanneer ek amen sê‚
wys hul gesigte stom
daar is ’n halfuur om.

Blom van God

Die stam gebreek,
die stengel lam.
Die son se angel
vuur en vlam.

Van dors gekwel
die tenger kelk,
die blarekroon
gekneus, verwelk.

Kadawereus
en blind en stom
hang God se rooi
papawerblom.

Onsterflikheid

Die korrels moes eers duisend dode sterf
eerdat hul uit die saailand op kon staan;
die sekel flitsend oor die are gaan
voordat hul saamgebind is in ‘n gerf.

Op die dorsvloer by die plaas se werf
vertrap die dorsslee halm en huls en graan;
met skop en gaffel word die oes gewan,
die kaf word prysgegee aan die verderf,

die koring in die klipmeul fyn gemaal
en in die oond gebak. Hy het die brood
gebreek, dit aan ons uitgedeel en só

vir ons gesê by daardie laaste maal
dat lewe in volle oorvloed uit sy dood
vir ons sal kom: Neem, eet, gedenk en glo ...

Ons besoekers...

ip-location

Totale Besoeke